Wednesday 18 April 2012

As ek moeg word vir die lewe in die Stad!

Toe, ek weet jy het dit lank laas gesing, maar die woorde is daar in jou kop. Die wysie sal jy altyd onthou. Ek sal die eerste versie sing.

Ek kan nou nie juis sing nie maar hier kom dit. “...As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad; in die veld pluk ek 'n wandelstaf van die naaste doringboompie af, en sing my wandellied, en sing my wandellied”.

Mooi, sien jy onthou nog! Nou vir die hele liedjie. Die ander strofes is minder bekend, maar jy sal gou kan inval.

Reg, hier gaat ons! ALMAL SAAM...1...2...3... “As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad; in die veld pluk ek 'n wandelstaf van die naaste doringboompie af, en sing my wandellied, en sing my wandellied”.

“Of ek luister na my eie voeteval op pad oor berg en dal. Dan's ek weer die eensaam wandelaar na die lekker landstreek wie-weet-waar, 'n swerwer lewenslank, 'n swerwer lewenslank”.

“En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek. En die sterreheer sal kom en gaan oor die maanverligte hemelbaan en vriend'lik wink van ver, en vriend'lik wink van ver”.

Dit was nou lekker, dit het my sommer ver na my kinderjare toe geneem toe ons al die ou liedjies gesing het. En vir jou?

Van kleintyd af onthou ek al die liedjies: Aanstap Rooies, Mooifontein, daar is nog vele meer. Aan hoeveel kan jy dink wat oor trek of reis gaan? Vat jou goed en trek Ferreira tel nie, hy was glo ‘n swendelaar of so iets en is weg gejaag. Dit lyk of daar maar iets in ons ou volkie is wat maak dat ons wil reis en die wye wêreld wil verken. Waar kom dit vandaan? 

Die Groot Trek miskien? Wat daardie ou omies laat besiel het on die onbekende in te trek sal net hulle weet. Kan jy jou dit in dink hoe dinge was in 1830? Hier kom Pa een middag na ‘n vergadering tuis (vroue het daai tyd mos min sê gehad en kinders in net gesien nie gehoor nie) en kondig luidig aan: “Oor ‘n week vat ons die pad binneland toe. Ek is nou moeg vir die Kolonie!” Ma had seker drie floutes...agter mekaar. Hoeveel trane die stomme boerinne gestort het is seker onbekend. Wat vat jy en wat los jy? Waar pak jy alles. Dis nou nie dat ‘n ossewa en ‘n  Landcruiser stasiewa direkte afstammeling is nie. Sy kon ook nie gou op Google Earth gaan kyk waar is die volgende beste plek om kamp op te slaan nie. Ek haal my hoed vir haar af, of sal ek sê my kappie.


Maar voor die Voortrekkers was daar ander wat die onbekende ingevaar het. Vat nou maar vir ou Jan van Riebeeck. Dit was hoeka die 6de April al 360 jaar gelede. Te danke aan hom is ons hier, maar het jy al gedink hoe was daai tog die wye oop see in? Die Teijer, Dromedaris en die Goede Hoop was nou nie die Queen Mary 2 nie. Die arme drommels was nog besig om die aarde te karteer en daar was seker nog die wat geglo het die aarde is plat. Maligheid as jy my vra. Ek sou die VOC in hulle maai ingestuur het as hulle vir my aangese het om ‘n skeeps roete na Indie toe soek. Maar tog het hy dit reg gekry, met ‘n hele paar skeerbuik gevalle aanboord. Viva Jan en Maria Viva!


Voor hom was dit die arme Vasco de Gama. Hy het seker maar  geswoeg  en gesweet om tot by Mosselbaai te kom. Onthou, dit was in 1497. Bartolomeus Dias was glo ook hier by die suid punt van Afrika verby in 1488. Tog was hulle nie die eerste nie wat die wêreld verken het nie. 

Van die vroegste tye af het mense gereis. Maak maar jou Bybel oop en lees bietjie in die Ou Testament.  Jy kan nie anders as om die arme Isrealiete baie jammer te kry nie. Uitverkone volk of te not, hulle het die hele woestyn vol gedwaal en seker bitter swaar gekry. Party keer was dit hulle eie skuld. Hulle wou mos vir Baal aanbid! Onthou dit was lank voor daar Ultra Cities en Formule 1 hotelle was. Ek dink as hulle by ‘n oase gekom het was dit ‘n vuis slanery om eerste ‘n bietjie water te drink. Noag was seker die eerste om ‘n boot reis aan te pak, so ook die olifante saam met hom. Dis seker maar waar dit alles begin het. Dis in jou bloed, die slimmes sal sê dis in jou gene. So is daar deur die hele Bybel verhale van reis. Vat nou maar die Wyse Manne uit die Ooste. Hulle moes net die tog Betlehem toe aanpak en dit te voet. Paulus het die hele Middelandse See plat gereis.

Die hele mensdom se geskiedenis het een ding in gemeen. Reis, verken en ontdek. Dit is iets wat diep, baie diep in ons is. En almal van ons het dit, party meer as ander. En as dit nie vir die was wat dit meer het as ander sou ons eers heelwat later van sommige dinge geweet het. Livingstone het Afrika behoorlik plat reis, en daai tyd was Afrika nog donker. Ek sou wat wou gee om die Victoria watervalle eerste te kon sien.

En so is dit vandag nog. Daagliks pak iemand iewers ‘n reis aan. Al is dit nou net Durban toe oor die Paasnaweek. Maar dinge het baie verander. Daar is paaie na oral, kaarte, GPSse, oornag plekke, viertrek voertuie, vliegtuie, luukse skepe en dies meer. Jy kan vandag sonder veel moeite eninge plek besoek. Alles is binne bereik. Jy het skaars jou sit gekry of die vliegtuig maak gereed om te land in die Kaap nadat dit vroeër by OR Tambo opgestyg het. Of hoeveel keer het jy al gehoor ouens praat van hulle rekord om van Johannesburg na Durban toe te ry. Goed, vandag is dit maligheid en tronksake, maar vroeër het ouens behoorlik Durban toe ge “dice”. 

En kyk maar hoe lyk die verkeer op ‘n Vrydag uit die stede. Die 4x4 is blink gepoets, die boswa hardloop flink agterna. Noord, oos, suid en wes, almal mik in ‘n windrigting na hulle gunsteling wegbreek plekkie, om vir ‘n wyle van die dolle gejaag te ontsnap. Vakansie tye loop die stede behoorlik leeg, en dan is die werkersklas wat oorbly op hulle gelukkigste. Jy is binne ‘n halfuur of wat by jou werk, ander tye vat dit tot ‘n uur, vir party nog langer as een klot in ‘n ander vas ry.

Dan is daar die vir wie Warmbad nou nie meer opwindend is nie, hulle wil verder noord mik. Reisplanne word gemaak, rantsoene gekoop, die 4x4 word versien, paspoorte word ingepak, malaria tablette gesluk en dan word die landsgrense oorgesteek, amper soos die dorsland trekkers van ouds. Prentjie mooi plekke is die bestemming: Okovango, Magadigadi panne, Chobe, Kaprivi, Etosha, Van Zyl’s pas, Kariba, Victoria, Luanga, Mana poele. Party gaan self verder noord, Malawi, Kenia, Tansania, Kilimanjaro, Ngorogoro en die heel avontuurlustiges eindig by Kairo op. Vir jare was dit al ‘n droom om die Kaap met Kairo te verbind, en tog het talle al die tog aangepak, sonder die bree pad of die spoorlyn.

Van die Kaap tot by Kairo, bied hierdie wonderlike kontinent vir ‘n ieder en ‘n elk die geleendheid om te reis. Deesdae knyp die ekonomie maar vreeslik, petrol en goud is amper ewe duur, en elke sentjie moet ‘n paar keer omgedraai word, maar ons almal raak een of ander tyd moeg vir die lewe in die stad. En dan, van watter doringboom pluk jy jou wandelstaf? Watter wandelpad lok jou? En sing jy jou wandellied?

Dit is ‘n moet dat jy moet weg kom. Dit doen die siel baie goed om weg te breek, al is dit net vir die naweek. Dit is in jou bloed. En jou siel het die rus nodig. En jy het nie ‘n 4x4 nodig nie, ook nie ‘n dik beursie nie. Soek bietjie rond, iewers naby jou is daar ‘n onontdekte plekkie waar jy jou tentjie kan opslaan, ‘n vuurtjie aansteek en jou oe na die uitspansel opslaan en jy kan voel of jy myle weg is van die huis. Dalk is jy so gelukkig om ‘n jakkals te hoor tjank, of daar is ‘n voëltjie wat roep. Vat jou probleme en gooi dit in die vuur, verlustig jou in die rustigheid, drink dit alles op. Gaan slaap rustig en droom soete drome. Dis waar oor die lewe gaan. 



Kom terug en pak die bul by die horings!

Vir so lank as wat daar mense op aarde is, so lank sal ons wil reis. Wat is volgende? Neil Amstrong was al op die maan, so ook Liewe Heksie. Mark Shuttleworth het al om die aarde gereis, in die Internasionale Ruimtestasie. Wat wag op Mars vir ons? Wie weet? Vir nou het ons net die aarde om te ontdek.

Geniet jou reise. Dit begin al as jy by jou hek uitry!

En ek vind my rus op plekke soos die!
Groete

Skilpaddop

Skilpaddop in Afrikaans

Welkom Welkom!

Nou kan ek in my eie taal gesels en skryf. Jy kan maar uitkyk vir heerlike dinge in Afrikaans. Soos hulle sê: "hou hierdie spasie dop"

Tot later

Skilpaddop